Die moontlike gevolge sou Suid-Afrika sy beleggingstatus verloor

Buitelandse kapitaal is belangrik vir Suid-Afrika. Dit stel ons in staat om bokant ons inkomste te leef. Danksy buitelandse kapitaal kan ons meer investeer in infrastruktuur, masjinerie en toerusting as wat ons lae besparing toelaat. En danksy buitelandse kapitaal kan ons ook meer invoer as wat ons uitvoer.

 

 
Buitelanders koop ons aandele en/of effekte, deponeer hulle geld hier of bou fabrieke in Suid-Afrika. Hulle besit dus “finansiële aansprake” op Suid-Afrika se toekomstige produksie. Dit is vir beleggers belangrik dat die land sy ‘skuldverpligtinge’ nakom. ‘n Afgradering na rommelstatus sê vir beleggers dat hulle beleggingsrisiko in die land verhoog het.
Sommige beleggers het reeds koue voete gekry. Hulle disinvestering is aangehelp deur faktore soos politieke onsekerheid, lae kommoditeitspryse, trae groei, stygende Amerikaanse rentekoerse en Suid-Afrika se moontlike afgradering. Pryse in die ekonomie het dan ook hierby aangepas. So byvoorbeeld, het die rand reeds in 2015 skerp geval teen die wêreld se belangrike geldeenhede en het rentekoerse in Suid-Afrika ook begin styg.
Hoe erg die gebeure (en ‘n moontlike afgradering) Suid-Afrika se vaste investering en verbruiksbesteding in die korttermyn gaan beïnvloed, is onseker. Ons weet ook nie hoe skerp invoerpryse gaan styg nie. Maar die gaping tussen ons besparing en investering en dus ook die gaping tussen ons in- en uitvoere sal waarskynlik in die komende maande verder vernou.

 
Indien Suid-Afrika sy beleggingstatus sou verloor, sal sommige beleggers die land as ‘n beleggingsbestemming vermy. (Sekere pensioen- en beleggingsfondse mag byvoorbeeld nie in rommelstatuslande belê nie.) Dit kan die skaarsheid van buitelandse kapitaal verder verhoog en ekonomiese groei knel.
Ons moet egter onthou dat a) ‘n swak rand en hoë rentekoerse nuwe beleggings lok; en b) dat daar – ook wat die rommelstatuslande betref – verskillende graderingsvlakke is. As Suid-Afrika afgradeer word, sal die land geklassifiseer word as “nie-beleggingsgradering, spekulatief”. Dit is sleg maar steeds beter as die lande met “spekulatief’ of “wesenlike risiko” graderings.
Suid-Afrika se ekonomie gaan vanjaar en volgende jaar swak presteer. Meeste ekonome verwag egter dat reële ekonomiese groei in 2017 effens gaan versnel, ondanks ‘n moontlike afgradering vanjaar.
Hopelik leer ons ‘n les of twee uit die episode. Hopelik moedig die gebeure ons aan om gesonde beleidsmaatreëls te implementeer – maatreëls wat ons huidige betalingsbalansbeperking op ekonomiese groei sal verlig.

 
Dr Riaan Lombard
‘n Vorige Sake se Ekonoom van die Jaar wenner.
7 April 2016

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *