Die Inflasiegevaar

“Inflation is the most destructive disease known to modern societies…there is nothing which will destroy a society so thoroughly and so fully as letting run inflation riot” – die siening van Milton Friedman, ‘n Nobelpryswenner in die ekonomie en een van die wêreld se bekendste ekonome.

 

 

Friedman is reg. ‘n Skerp daling in die koopkrag van geld veroorsaak gewoonlik groot ongelukkigheid. Baie mense, veral die armes, protesteer  – dikwels hewig. Ontevrede werkers staak en dring aan op hoë loonverhogings. Protesaksies ontaard in geweld. Beskuldigings word oor en weer geslinger. Pryse hou aan styg en welvaart word in die proses vernietig.

Wêreldwyd is daar baie voorbeelde van die vernietigende effek van inflasie. Vars in die geheue is Zimbabwe. Hoë inflasie het bygedra tot die erge daling in dié land se reële produksie. Armoede onder die bevolking het skerp toegeneem. ‘n Hele klomp Zimbabwiërs het elders ‘n heenkome gaan soek. Baie ander voer vandag ‘n sukkel bestaan.  Só waardeloos het die Zimbabwiese dollar geword dat die Zimbabwiese regering besluit het om dit te skrap.

Dis egter nie net hoë inflasie wat ‘n probleem is nie. Selfs matige inflasie kan die produksiestruktuur van ‘n land deurmekaar krap en reële groei knel.

Inflasie is nie die natuur, die vakbonde, die boere of ander produsente se skuld nie. Dit is die owerhede se skuld. Hulle beheer immers die gelddrukker. Vir korttermyn gewin is die versoeking soms vir die owerheid groot om eenvoudig geld te druk om groter staatsuitgawes en werkskepping te finansier.

 

‘n Droogte of stygings in die brandstofprys kan wel die inflasiekoers laat versnel. Hierdie stygings weerspieël groter skaarsheid en is die inflasieversnelling gewoonlik van korte duur. Sou die owerhede egter oordadig geld druk en/of te akkommoderend optree om die effek van hierdie prysstygings te probeer versag, is die kanse goed dat pryse oor ‘n breë front sal aanhou versnel.

‘n Groot hoeveelheid geld (dit wil sê, kunsmatig lae rentekoerse) kan ekonomiese groei vir ‘n jaar of twee aanhelp. Ekonomiese groei word egter deur ‘n land se produksiekapasiteit bepaal. Te veel geld relatief tot produksie lei gou tot inflasie (eerder as ‘n volgehoue styging in reële produksie).

Soms druk ‘n owerheid te veel geld en probeer dan met die ander hand inflasie beveg deur pryse in die ekonomie te beheer. So byvoorbeeld, word die wisselkoers vasgepen en word die maksimum pryse van sekere goedere en dienste per dekreet vasgestel. Dié maatreëls veroorsaak egter tekorte en verlig nie die inflasiedruk in die ekonomie nie.

In ons geskiedenis  is daar ook voorbeelde waar die owerhede kwistig geld gedruk het. In die 1800s het die regering van Marthinus Wessel Pretorius byvoorbeeld staatsuitgawes grootliks met die gelddrukker gefinansier. Die sogenaamde “Bluebacks” van destyds het vinnig waarde verloor – sodanig dat mense dit nie langer as ‘n ruilmiddel wou aanvaar nie.

 

Suid-Afrika ervaar tans trae reële ekonomiese groei en stygende inflasie. Ondanks die beskeie groeiprestasie, het die Reserwebank reeds vier keer sedert Julie 2015 rentekoerse verhoog om stygende inflasie te bekamp – ‘n aanduiding van die Monetêre Beleidskomitee se konserwatiewe benadering  wat inflasie betref.

Die Reserwebank het inflasieteikens en is inflasie tans hoër as die boonste perk. Tog is daar mense in Suid-Afrika wat die Bank se beheptheid met lae inflasie kritiseer en boonop gekant is teen die Bank se onafhanklikheid. Baie van hulle oënskynlik blind vir die inflasiegevaar.

 

 

Dr Riaan Lombard

Voormalige ekonoom van die jaar en klient van Bovest

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *