Belasting 101 – Deel 2 (Tharien vir Bella Tydskrif)

BELLA het verlede maand reeds in samewerking met Tharien Hattingh (geoktrooieerde rekenmeester by, onder andere Bovest), ’n paar belangrike vrae in terme van belasting beantwoord.
Ons kyk hierdie maand weer hierna, want dié onderwerp is tog so belangrik, veral vir jong entrepreneurs.

 

 

Is ’n rekenmeester of ouditeur werklik nodig?
Tharien verduidelik dat indien ’n mens nie self vertroud is met boekhou en Suid-Afrika se belastingwetgewing en Maatskappywet nie, is dit beter om van ’n rekenmeester of ouditeur gebruik te maak. “Dit is belangrik om al die bogenoemde tipes belasting van dag een af op datum te hou, anders moet jy later spook om bewyse en selfs fondse bymekaar te kry, om skuld by SARS te betaal,” sê sy. Oppas! Indien enige belastingsperdatum gemis word, hef SARS onmiddelik boetes en loop die skuld ook daagliks rente op. Dit is dus die beste om jou kant skoon te hou as dit by SARS kom.

 

Hoe hou ’n mens kop van alle inkomste, uitgawes, strokies en opgawes?
Wees van die begin af ingelig oor presies waarvoor jy moet registreer. Hou ook ’n kalender byderhand en wees seker van watter opgawes wanneer ingedien moet word. “Maak seker jy dien alle opgawes betyds in. Kontak eerder ’n belastingkundige, indien jy besef dat jy gaan vasbrand óf gaan hulp benodig ten opsigte van berekeninge en die indien van opgawes,” sê Tharien.
“Dit is belangrik om ’n goeie en betroubare boekhoustelsel in plek te hê en rekord te hou van alle transaksies.”

Watter sagteware kan ek gebruik?
Tharien verduidelik dat daar deesdae gebruikersvriendelike, aanlynboekhouprogramme is, wat enige leek in staat stel om van sy/haar transaksies boek te hou. SARS eFiling is die Suid-Afrikaanse
Inkomstediens se aanlyn platform, waarop alle opgawes ten opsigte van belasting ingedien kan word. Betalings kan ook veilig vanaf hierdie platform gelaai word. “Dit is dus moontlik om vanuit jou rusbank jou maatskappy se boekhou- en belastingsake op datum te hou – mits jy weet hoe dié
proses werk,” sê sy.

Hoe eis ’n mens geld terug?
Die goue reël: “Hou rekord van alle inkomste en uitgawes wat met jou onderneming verband hou en sorg dat jy die bewyse van hierdie transaksies veilig bewaar,” sê Tharien. “Op hierdie wyse kan jy seker maak dat jy die ware prentjie van jou onderneming se wins aan SARS verklaar en dus ook al die wettige aftrekkings kry wat jou toekom.” Dit sal wys wees om eerder met ’n belastingkundige te gesels oor die stappe wat jy kan neem om seker te maak dat jou onderneming op die mees belastingvoordelige manier bestuur word.

Hoe werk invoer- en uitvoerbelasting?
Indien ’n onderneming produkte vanuit die buiteland wil invoer, moet die maatskappy vir ’n doeane-nommer (customs number) by SARS aansoek doen. “Hierdie nommer word gebruik om bepaalde invoere met die maatskappy te skakel en verseker ook dat die regte belasting gehef word,”
verduidelik Tharien. “Op invoere word daar invoerbelasting gehef, sowel as BTW. Hierdie belasting moet eers betaal word, voordat die ingevoerde goedere by die doeane beskikbaar gestel word vir verspreiding.” Die doel van hierdie belasting is om die invoer van goedere uit die buiteland te beperk en om binnelandse produksie aan te moedig. “Vir direkte uitvoere na die buiteland bied SARS ’n vergunning van ’n nul-koers BTW-heffing op alle verkope. Vir direkte invoere kan die
koper, die BTW betaal op die produk, by die doeane terugeis, indien daar aan al die vereistes voldoen word.”

 

Tharien Hattingh is ’n geoktrooieerde rekenmeester (CA(SA)) wat sedert 2015 haar eie rekenkundige en belastingpraktyk bedryf en deesdae werk sy ook saam met Bovest se
span professionele besigheids-enbeleggingskenners. Sy spesialiseer in klein-tot-medium sake-ondernemings en is mal daaroor om ’n entrepreneur se regterhand te wees in die bestuur
van ’n onderneming. In haar vrye tyd reis sy en stap gereeld saam met haar honde.

Kontak haar by
tharien@bovest.co.za.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *