Ons stel bekend vir Yvonne Velthuysen, nuwe Finansiële Adviseur in die Tuinroete omgewing. 

Dit was nogal ‘n uitdaging om oor myself te skryf!  Waar begin ek? Wat sê ek? Ek besef toe dat daar net een uitweg is… sê dit soos dit is, wees outentiek. Eintlik is dit mos maklik… my passie is my kliënte se welvaart.

Ek is dankbaar en bevoorreg om deel van die Bovest se professionele span te wees, met die klem op “Span”. Elke individu bring iets na die tafel. Ons leer by mekaar, deel menings, hou dinkskrumme en dit alles net tot voordeel van ons kliënte. Ons span is hoogs gekwalifiseerd en spesialiste op eie gebied.

Wanneer ons finansiële beplanning vir ‘n kliënt doen, kyk ons onder andere na die volgende aspekte:

Boedelbeplanning; alle fasette van belastingbeplanning, aftreebeplanning, plaaslike en oorsese testamente, plaaslike en oorsese beleggings, risiko ontleding, welvaartskepping en strukture wat die beste uitkoms vir die kliënt gee.

As deel van die span het ek ongeveer 30 jaar ondervinding in ons industrie. Ek het my diploma in welvaartskepping, honderde kursusse deur die jare gedoen en duisende ure van lees en navorsing.  Ek leer nog elke dag.

My area van fokus is holistiese beplanning, dit is deel van wie ek is. Ek kan nie anders as om na ‘n kliënt se totale finansiële posisie te kyk nie. Ek stap ‘n pad met my kliënte en nou ook met van hulle kinders. My kliënte basis is versprei tussen die Wes en Suid-Kaap.

Wat doen ek as ek nie werk nie? Stap lang ente langs die see, reis is my passie, lees baie graag, onthaal my vriende en doen uitreike.

Iets waarop ek trots is? Ek het oor die 800 valskermspronge gedoen en het provinsiale kleure verwerf in die sport. Ek is mal oor avontuur en het ‘n passie vir die lewe.

Ek wil net afsluit deur dankie te sê vir al my kliënte se lojale ondersteuning  die afgelope jare. Wees verseker dat ek net die beste vir julle wil en sal doen. Die pilare van ons verhouding was nog altyd eerlikheid, vertroue, respek, kommunikasie en harde werk.

Alles wat mooi is vir die res van 2020.

Yvonne Velthuysen

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *