Is kwalifikasies werklik nodig om welvaart te skep?

Indien julle die 3rde episode van Welvaartskeppers gemis het, gee ons graag n opsomming oor ons ervaring oor die vraag: Is kwalifikasies werklik nodig om welvaart te skep?

Die kort antwoord is nee, maar dit verhoog jou kanse tot sukses.

Net om te noem Steve Jobs en Bill Gates, die groot menere wat bekend staan vir welvaartskepping, het nooit hulle kwalifikasies klaar gemaak nie.

Maar hulle is dalk die uitsondering op die reël. Ek stel voor dat wanneer ‘n persoon die geleentheid kry om ‘n kwalifikasie te verwerf, hy of sy dit aangryp want kennis is mag.

Daar moet egter onthou word dat om ‘n kwalifikasie te verwerf verg persoonlike deursettingsvermoë asook finansiële opofferings om vir kususse te betaal.

‘n Kwalifikasie waarborg ook nie noodwendig ‘n werk of bevordering in die werkplek nie.

‘n Paar punte wat vir ons uitstaan van hierdie episode na die verskillende gesprekke:

  • Doen deeglike navorsing oor jou kwalifikasie.

Doen noukeurig huiswerk oor waar jy ‘n loopbaan sien. Meeste beroepe is nie soos wat hulle in flieks uitbeeld nie, so probeer vakansie werk doen in die veld wat jy belangstel. Dit is dalk nie ‘n slegte idee om dalk ‘n oorbrugging jaar te neem voordat jy finaal besluit nie.

  • Jy het verkeerde rigting studeer, wat nou?

In jou studies leer jy meer as net wat in die handboeke geskryf is. ‘n Kwalifikasie vorm ‘n manier van dink. Alhoewel jy nie altyd gebruik wat jy geleer het nie, vorm dit tog die manier hoe jy dink. Jy kan altyd verder studeer of van veld verander. My gesprek met Marlie Coetzee, verduidelik dat sy met kommunikkunde begin het en sy het toe agter gekom sy hou eerder van die besigheid gedeelte en dit het gelei tot verdere studies om uiteindelik ‘n MBA-graad te verwerf. Erik Kruger het as Fisioterapeut studeer, maar het toe heeltemal van loopbaan verander en sy eie besigheid in selfontwikkeling afrigting begin.

  • In sekere beroepsrigtings word kwalifikasies vereis.
    Marlie Coetzee stel selfs mense met ‘n M-graad aan en vir enige ander gespesialiseerde werk gaan jy ook ‘n kwalifikasie benodig.
  • Vaardighede is meer belangrik as ‘n stuk papier.

Tabz Dube het nooit die geleentheid gehad om te studeer nie, maar hy het die vaardigheid van leerwerk, wat hy by sy ouma geleer het, gebruik om ‘n suksesvolle besigheid te bou.

  • Bly ewig ‘n Student.

Die leer proses stop nie by universiteit of ‘n kursus nie. Jy moet aanhou leer in jou beroep om in aanvraag te bly.
Erik Kruger het ook daarna verwys, dat jy iemand moet kry wat jou help om te sien waaraan jy kan werk en waar jy voordurend kan verbeter.

Dit herinner my aan die volgende storie:

As jy sukses vergelyk met ‘n gat wat jy die sand wil grawe, kan jy die gat met jou hande grawe, wat moeilik en tydsaam gaan wees, maar jy sal dit met harde werk gedoen kry.

Indien jy ‘n kwalifikasie verwerf, is dit soos om ‘n graaf by te kry. Dit maak die taak van ‘n gat grawe net so bietjie makliker.
Indien jy egter net gaan rondstaan met jou graaf, gaan jy ook nie sukses behaal nie.

‘n Sterk wil om harde te werk tesame met uithouvermoë, is die resep vir persoonlike sukses.

Kyk na Welvaartskeppers op KykNET, Kanaal 144 op DStv op Donderdae om 17:30.

PJ Botha CA(SA), CFP ®

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *