Inleiding
Aftrede is onteenseglik ’n belangrike fase in ons lewens, en waarskynlik die belangrikste. Dit is die kulminasie van voorafgaande fases, soos opleiding en inkomsteskepping, en as ons nie gereed is vir hierdie fase nie, kan die lewe traumaties wees.
Aftrede verg beplanning en beplanning is die gevolg van goeie gewoontes. Ons raad aan afgetredenes en mense wat beplan om af te tree, is om goeie gewoontes te kweek om hulle op die pad na ’n gelukkige aftrede te lei. Uit ons interaksie met kliënte wat op aftrede staan of reeds afgetree het, kon ons sien dat hierdie benadering prakties en logies is, met positiewe, tasbare gevolge.
Baie faktore speel ’n rol in ’n gelukkige aftrede. In die VSA het ’n studie hierdie faktore gelys as goeie gesondheid, finansiële sekuriteit, liefdevolle familie en vriende en ’n doelgerigte of beplande aftrede - What Retirees Want. Dychtwald and Morison, 2022. p115. Hierdie aspekte word onder meer in hierdie boek aangespreek.
By Bovest word kliënte se persoonlike omstandighede in ag geneem wanneer hulle finansiële advies vra. Ons wil mense help om hul finansiële situasie ten beste te benut om gelukkig te kan leef.
Om gelukkig af te tree is egter nie ’n gegewe nie. Jy benodig persoonlike doelwitte wat opgevolg moet word met die begeerte om die nodige regte gewoontes aan te leer. Dit vereis dikwels dat jy bereid moet wees om van jou gevestigde gewoontes te verander. In die soeke na jou persoonlike geluk gaan jou gewoontes uniek wees.
Hoe word Gewoontes Gevorm?
Daar bestaan verskillende teorieë oor hoe om gewoontes suksesvol te vorm. By Bovest vind ons aanklank met James Clear se teorie soos vervat in sy boek Atomic Habits (Penguin Random House, London, 2018, pp47-48), wat vier stappe tot sukses verwoord:
Stap 1: Raak bewus van ’n wenk, insig, doelwit of begeerte.
Stap 2: Hunker om dit uit te voer.
Stap 3: Wat is die reaksie wanneer jy dit uitvoer?
Stap 4: Wat is jou beloning as jy dit uitvoer?
Kom ons kyk na’n voorbeeld van gewoonte-vorming:
· Stap 1: Iemand wat aftree se doelwit is om waarde vir geld te soek – hulle ontleed voortdurend die omgewing waarbinne hulle leef en pas hul begrotings en maandelikse uitgawes oppersoonlike behoeftes voortdurend aan.
· Stap 2: Daar word navorsing gedoen oor watter uitgawe die beste waarde vir die beskikbare geld bied.
· Stap 3: Die aankope word aangepas en die afgetredene voel tevrede dat daar waarde vir geld verkry is.
· Stap 4: Aangesien daar binne begoting opgetree is, is die beloning dat daar fondse beskikbaar is om op ander beplande aankope te spandeer. Indien die koop ’n winskoop was, kan ons daarmee spog en selfs deur ons vriende geprys word as ’n winskopie-jagter!
Deur hierdie vier stappe te herhaal, sal ons in die toekoms met meer gemak optree tot gewoontes van gesonde finansiële bestuur redelik moeitevry gevorm word.
©COPYRIGHT BOVEST. ALL RIGHTS RESERVED. BOVEST WEALTH MANAGEMENT PTY (LTD) IS AN AUTHORISED FINANCIAL SERVICES PROVIDER FSP Nr. 35064