REFLEKSIE NA DIE OLIMPIESE SPELE

Yvonne Velthuysen • September 2, 2024

Menige Suid-Afrikaner het vasgenaal gesit voor die televisie tydens die Olimpiese Spele in Parys vanjaar.


Ons het ons ingeleef en die hoogtepunte en laagtepunte van atlete meegemaak, die blydskap asook die hartseer en teleurstellings.


Ons besef wat dit die atlete gekos het om net daar te kon wees. Vier jaar se voorbereiding en ongelooflike harde werk vir een wedloop of item.


Ek was bevoorreg om hierdie Olimpiese Spele persoonlik mee te maak in Parys, aangesien my dogter Suid-Afrika verteenwoordig het in die driekamp kompetisie.


Graag deel ek my ervaring , observasie en lesse wat ek hieruit geleer het. Meeste van dit kan ons toepas op die lewe in die algemeen maar ook op ons beleggingsstrategie.


  • Tyd – dit neem soms jare om jou doelwit te bereik. Soms, soos in my dogter se geval 22 jaar.


  • Toewyding – slaap, eet en leef jou doel.


  • Dissipline – doen elke dag wat jy moet doen. Moenie kompromië aangaan nie.


  • Fokus – weet wat jou doelwit is en werk elke dag daaraan.


  • Opofferings – daar is baie dinge wat op jou pad kom waarvoor jy “nee” sal moet sê. Dis nie maklik nie.


  • Span – kry ’n span wat jou ondersteun en van advies kan voorsien, aanspreeklik hou, moed inpraat en wat in jou glo.


  • Finansies – dit kos ’n fortuin om jou droom te bereik. Veral in Suid-Afrika. Probeer hulp kry van borge.


  • Onsekerheid – dit is moeilik om te presteer as daar onduidelikheid is oor wat van jou verwag word en wat jy moet doen. Om dit te oorkom verg ’n baie sterk persoon met ’n onwrikbare karakter.


  • Ervaring – geniet alle fasette van die pad na jou doelwit toe. Leer en pas dit toe soos jy aangaan. Daar sal hoogtepunte en laagtepunte wees. Daar sal uitdagings wees. Jy sal bo uitkom.


  • Geloof - glo in God. Hy loop elke tree saam met jou en Hy sal jou nooit verlaat nie.


  • Balans – wanneer ’n mens kyk na bogenoemde punte asook wat dit van ’n mens verg om te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele, lyk balans maar
  • moeilik, maar dit is belangrik.


  • Sukses – dit is anders vir elke persoon. Ek glo dat jy sukses bereik het wanneer jy vrede en aanvaarding ervaar. Wanneer genoeg, genoeg is.


  • “DIE DAG” - so, jy het 4 jaar voorberei vir “die dag”!? Dit kan goed gaan of dit kan minder goed gaan, op “die dag”. Was dit ’n mors van tyd en geld? Nooit nie. Alles wat jy geleer het op die pad soontoe gaan jy vir die res van jou lewe gebruik en sou jy ’n minder goeie dag op “die dag” gehad het, onthou al die hoogtepunte en goeie tye op die pad soontoe en weet dat daar is lewe na “die dag”, dis jou keuse!


Wat het bogenoemde te doen met beleggings? Tyd in die mark is baie belangrik. Bly gefokus, wanneer dinge moeilik gaan hou aan met jou bydraes. Wanneer markte wisselvallig is, bly by jou beleggingsstrategie. Wanneer markte af is en jy moet aftree, “die dag” byt vas. Môre is nog ’n dag. Moenie paniekbevange en emosioneel raak nie. Werk saam met jou beleggingsspan. Weet


dat hulle jou by jou einddoel sal kry. Weet dat hulle die ervaring het. Weet dat hulle suksesvol is. Sterkte vir die pad vorentoe. Daar is lewe na die Olimpiese Spele.


May 28, 2026
Die term “toebroodjie-generasie” (TG) kom deesdae in baie geskrifte voor. Hierdie tipering is reeds in die 1980’s ontwikkel en verwys na volwassenes in verskillende ouderdomsgroepe wat vasgevang is in die versorging van hulle ouerwordende ouers enersyds, en ondersteuning aan hulle kinders en selfs kleinkinders, andersyds. Dié situasie verteenwoordig ‘n groeiende sosiale en ekonomiese uitdaging. Meer spesifiek verwys die TG-generasie na volwassenes tussen die ouderdom van 30 en 60 jaar wat beide hulle ouers en kinders finansieel, fisies en emosioneel versorg en ondersteun. TG’s is dan denkbeeldig vasgevang soos die vulsel van ‘n toebroodjie tussen twee snye brood. Redes vir die onstaan van hierdie generasie is velerlei en kan ondermeer toegedig word aan verhoogde lewensverwagting, kinder wat langer in ouerhuise bly, jongmense wat op ‘n later stadium met gesinne begin en finansieële redes. Interessant is dat China die hoogste TG’s ter wêreld het en Old Mutual het in 2018 bevind dat 28% van alle Suid-Afrikaners tot hierdie generasie behoort en jaarliks met twee persent toeneem. Internasionale navorsing toon dat hierdie verskynsel veral sterk in die Globale Suide voorkom, insluitend Suid-Afrika, waar gesinsolidariteit en beperkte staatssteun families dwing om die las self te dra. TG’s kom ook byna twee keer so algemeen in Sub-Sahara-Afrika voor as in Europa. Volgens Suid-Afrikaanse statistieke (2023) woon sowat 9,7 mijoen kinders saam met 6,7 miljoen grootouers. Dit dui op ‘n sterk tradisie van intergenerasionele huishoudings. ‘n Verslag (2026) waarsku dat ongeveer 5,6 miljoen Suid-Afrikaners ouer as 60 ‘n toenemende vraag na gesinsgebaseerde sorg skep. Die middelgenerasie dra dikwels hierdie koste terwyl hulle self probeer spaar vir aftrede. Op ‘n sosiale en emosionele vlak kan die konstante spanning om ouers en kinders te ondersteun lei tot uitbranding, skuldgevoelens en gesinskonflik. Druk op die Toebroodjie Generasie is veelvoudig: ouers vind dit dikwels moeilik om hul beroep, stokperdjies, sport, verhoudinge en tyd vir hulself te bestuur – soms is daar werklik geen tyd buite hierdie versorgingsfunksies nie. Om dus ‘n goeie huweliksmaat, ouer en kind terselfdertyd te wees, raak uiters moeilik. Sielkundige probleme kan volg: ouers kan aan versorger-uitbranding begin ly met die voorkoms van depressie, skuldgevoelens en gevolglike sosiale isolasie. Hoeveel van ons is nie bewus van vriende en familie wat tot die toebroodjie-generasie behoort nie.  Geksryf deur Koos van die Waterberge vir Bovest
By Dr. Riaan Botha May 6, 2026
Agtergrond Geopolitieke spanninge het daartoe gelei dat oorlog tussen Amerika/Israel en Iran op 28 Februarie 2026 uitgebreek het. Een van die gevolge van die huidige oorlog is die verminderde olieproduksie en die gevolglike styging in brandstofpryse. Die duurder brandstof raak nie net Suid-Afrikaners se sak wanneer hulle hul motors se tenks vul nie, maar beïnvloed ook die winsgewendheid van Suid-Afrikaanse maatskappye wat op die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) genoteer is. Suid-Afrika Suid-Afrika vorm deel van die ontwikkelende ekonomieë wat aanvanklik goed gevaar het gedurende die eerste twee maande van 2026, totdat die oorlog op 28 Februarie uitgebreek het. Gedurende Maart 2026 het die JSE All Share Index met 13% gedaal — die grootste maandelikse daling in 18 jaar. Gedurende April het die indeks egter gestabiliseer, maar dit bly sensitief vir energieprysskokke. Weens die hoër brandstofpryse het Suid-Afrikaanse industriële aandele, kleinhandelaars en eiendomsmaatskappye se aandeelpryse gedaal. Hierdie ondernemings is nou gekoppel aan die plaaslike ekonomie en verbruikersbesteding, wat tans onder druk verkeer. Groot maatskappye met internasionale blootstelling se pryse het ook verswak. Richemont is geraak deur swakker wêreldwye vraag na luukse goedere, terwyl Naspers en Prosus afgetrek is deur swakker prestasie in Chinese tegnologie-aandele. Die Suid-Afrikaanse geldeenheid het ook ’n belangrike rol gespeel. Die rand het versterk tot ongeveer R16 teenoor die Amerikaanse dollar voordat dit effens verswak het. Hoewel dit positief mag klink, verminder ’n sterker rand die waarde van buitelandse verdienste wanneer dit terug na rand omgeskakel word. Aangesien baie van die grootste maatskappye op die JSE hul inkomste oorsee verdien, het dit hul aandeelpryse verder gedemp. Amerika Amerika vorm deel van die ontwikkelde ekonomieë, en hul aandelebeurse is anders deur die oorlog geraak. Suid-Afrikaanse aandele het nie tred gehou met die sterk herstel van die Amerikaanse markte ná die aanvanklike daling in aandeelpryse aan die begin van die oorlog nie. Dit was die gevolg van ’n kombinasie van wêreldwye onsekerheid, die tipe maatskappye wat op elke mark genoteer is, en bewegings in wisselkoerse. Amerikaanse maatskappye, veral in die tegnologiesektor, het voortgegaan om winsgroei te toon, wat beleggers gelok het. In onseker tye neig internasionale beleggers ook om geld na die VSA te verskuif omdat dit as ’n veiliger beleggingsbestemming beskou word. Suid-Afrika, aan die ander kant, het ’n mark wat meer afhanklik is van kommoditeite en wêreldwye ekonomiese siklusse, wat dit meer vatbaar maak vir skokke. Samevatting Daar is ’n gesegde: “Dit is makliker om ’n oorlog te begin as om dit te stop.” Mag diplomate die oorhand kry oor generaals sodat vrede kan terugkeer. Vrede sal olieproduksie verhoog en gevolglik brandstof goedkoper maak. Dit gaan egter tyd neem voordat die huidige hoë brandstofpryse en inflasiedruk verdwyn. In ’n ná-oorlogse situasie kan verwag word dat die JSE weer sterk sal vertoon, mits inflasie onder beheer bly en rentekoerse nie dramaties verhoog word nie. NOTA Ek het in 1983 my meestersgraadverhandeling in Staatsleer aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi met die titel: “Islamitiese Determinante in die Wêreldpolitiek.” Dit is kenmerkend dat die rol van olie in die internasionale politiek gedurende 1970’s, weer 50 jaar later herhaal word. Die prys van ’n vat olie het destyds van 1,80 dollar in 1970 na 3 dollar in 1973 en na 31 dollar in 1979 gestyg. Daar was bewindsverandering in Iran toe die Islamietiese Revolusie in 1979 plaasgevind het. Iran, wat deel van OPEC is, het destyds ook olie aangewend om sy Islamitiese doktrine internasionaal te bevorder. In die huidige oorlog word olie steeds deur Iran as ’n geopolitieke wapen gebruik om Amerika en ander olie-verbruikende lande onder druk te plaas. Marksyfers tot einde April 2026